» Afrikaans

ANTWOORDE OP JOU VRAE

  • Wie is Kropz?

    Kropz onderneem prospekteerwerk, ontgin neerslae en tree op as myn ontwikkelaar van hoofsaaklik fosfate. Kropz is besig om sy besigheid vertikaal te integreer ten einde ‘n reeks plantvoeding-kunsmisprodukte vir die sub-Sahara-Afrikamark te produseer.

    Wat beteken die hart dan?

    Die gebruik van die groen hart in die Kropz-logo verteenwoordig Kropz se volgehoue toewyding aan sy sorgsame benadering teenoor sy mense en gemeenskappe, sowel as sy verantwoordelikheid teenoor die omgewing waarin dit werksaam is.

    Wat is die verband tussen Kropz en Elandsfontein?

    Kropz is die meerderheidsaandeelhouer in, die vernaamste befondser van, en die grootste kredietverskaffer vir die ontwikkeling van die Elandsfontein-fosfaatprojek. Kropz se verbondenheid tot die Elandsfontein-projek word gedryf deur sy doelwit om toegang te verkry tot kunsmisvoermateriaal van wêreldgehalte. Fosfaat is die mees gesogte van hierdie materiale.

    Die Kropz-bestuurspan wat die Elandsfontein-projek ontwikkel, is verbind tot omgewingstandaarde van wêreldgehalte ten opsigte van elke aspek van die projek. Hiertoe het hulle die doel om van Elandsfontein die wêreld se eerste algehele groen ontginningsbedryf te maak.

    Waarom ontginning op Elandsfontein?

    Elandsfontein is Suid-Afrika se grootste bekende sedimentêre fosfaatneerslag en die tweede grootste na die vulkaniese Phalaborwa-neerslag.

    Waarom is fosfaat so belangrik?

    Fosfate is ‘n vorm van sout wat natuurlik voorkom in fosfor. Plante het fosfor nodig om te groei. Fosfaatkunsmis dra daartoe by om oesopbrengste te vergroot sodat meer voedsel uit minder grond geproduseer kan word.

    Hoeveel geld belê Kropz in Elandsfontein?

    Kropz belê R1,35 miljard in die ontwikkeling van die Elandsfonteinprojek. Alle moontlike stappe word geneem om voordele direk aan plaaslike sake-ondernemings in die Saldanhabaai-munisipaliteit te maksimaliseer.

    Is dit nodig dat ons fosfaat in Suid-Afrika ontgin?

    Die aanvraag na fosfaat is geheel en al afhanklik van die behoefte aan voedsel. Die vraag na voedsel word gedryf deur bevolkingsgroei en verstedeliking. Suid-Afrika voer tans sowat 60% van sy kunsmisbehoeftes in, wat toegang tot fosfaat krities belangrik maak vir Suid-Afrika se toekomstige voedselsekuriteit.

    Hoe het die minerale daar gekom?

    Die Elandsfontein-neerslag is nagenoeg vyf miljoen jaar oud. Aanvanklik was die seevlak baie hoër en Elandsfontein was ‘n beskermde kusbaai. Die fosfaatneerslag is die produk van die seedier-reste wat in die beskermde kuswaters geleef het.

    Die fosfate by Elandsfontein word gevind in die vorm van apatietkorrels tussen die sanddeeltjies (silika-deeltjies).

    Het ons altyd geweet van die Elandsfontein-neerslag?

    Samancor was die vorige eienaar van die ou Chemphos-myn wat die maatskappy bedryf en ontgin het waar die Weskus Fossielpark tans geleë is. Samancor het geweet van die Elandsfontein-neerslag, en was van plan om dit teen die tyd wat die hulpbronne by Langebaanweg in die middel van die 1980s uitgeput was, met die ontginning van die myn te begin. As gevolg van veranderinge in die maatskappystrategie en die bedrukte fosfaatpryse op daardie tydstip, het hulle egter besluit om nie die hulpbron te ontwikkel nie.

    Waarom is strookmynbou die voorkeurmynbou-metode?

    Strookmynbou, soos in die vooruitsig gestel word op Elandsfontein, is ‘n oopmynontginningsmetode waar die ontginning plaasvind in 50 meter wye stroke. Hierdie metode maak voorsiening vir die vroeë aanvang van rehabilitering. Die proses van rehabilitering sal ‘n aanvang neem gedurende die derde jaar nadat daar met die ontginning begin is.

    Dit beteken ook dat slegs klein ontginningsgedeeltes op ‘n slag sigbaar sal wees en dat ‘n groot oop put of gat nooit blootgelê sal word nie. Dit maak dat minder stof veroorsaak word en verklein die mynbouvoetspoor.

  • Is ‘n behoorlike omgewingstudie gedoen?

    Sowat R25 miljoen is bestee aan verskeie onafhanklike en derdeparty-spesialisstudies rakende Elandsfontein om alle besorgdhede en besware van belangstellende partye te hanteer. Ten opsigte van hierdie besware is die Elandsfonteinprojek se vernaamste internasionale kredietverskaffers en belangrike plaaslike beleggers tevrede. Dermate voldoen die Elandsfonteinprojek aan die Equator-beginsels en oortref wettige Suid-Afrikaanse maatskaplike en omgewingstandaarde. Kontroleringsprosesse is uitgevoer deur vooraanstaande prokureurs- en konsultasiefirmas in Suid-Afrika, en die bevinding is dat daar voldoen is aan wetgewende vereistes.

    Voldoen julle aan alle omgewingswetgewing?

    Die Elandsfontein myn voldoen aan al die mynbou en omgewingswetgewing. Die myn verwag dat die water gebruik lisensie in Oktober 2016 toegeken sal word. Na aanleiding van ‘n versoek wat ontvang is van die Departement Minerale Hulpbronne, is die myn tans besig om sy omgewing bestuursprogramme op te gradeer ten einde die die geoptimiseerde myn ontwerp te akkommodeer sedert dit aanvanklik ingedien was.

  • Is die myn op die Weskus Nasionale Park gebied?

    Die myn is op die Elandsfontein-plaas wat ‘n private eiendom is. Die hele plaaseiendom dek nagenoeg 5 000 hektaar, maar die mynbougebied sal net meer as 500 hektaar beslaan, en sal as geheel afgekamp word. Die Weskus Nasionale Park gebied langs die myn is ‘n afgeleë wildernisgebied waartoe die publiek nie toegang het nie.

    Val die projek in ‘n kritieke biodiversiteitsgebied?

    Daar is geen verklaarde kritieke biodiversiteitsgebiede in die Wes-Kaap nie. Kropz benader egter die Elandsfontein-projek as ‘n uiters sensitiewe gebied en alle omgewingsaspekte word in ag geneem.

    Sal die myn ‘n invloed hê op die Elandsfontein-fossielgebied?

    Elandsfontein het saamgewerk met die Universiteit van Kaapstad, die Raad vir Geowetenskappe en die Wes-Kaapse Erfenisraad om die fossielgebied as ‘n provinsiale erfenisgebied verklaar tekry het. Hierdie status sal daartoe bydra dat die gebied beskerm is en om die nodige argeologiese werk op die duine te voltooi. Die fossielgebied is sowat vyf kilometer van die myngebied geleë. Dr. David Braun van die Universiteit van Kaapstad en Dr. Graham Avery, gewese kurator van die Iziko-museum is deel van die proses. Hulle is oortuig daarvan dat die myn ‘n positiewe uitwerking op die gebied sal hê aangesien ondergrondse fossiele selde gevind word tensy die een of ander tipe spesifieke uitgrawing gedoen word.

    Elandsfontein het beplan vir enige oponthoude wat kan voorkom ingeval fossiele van argeologiese belang tydens ontginning opgegrawe word.

  • Hoe sal die myn ons water gebruik en watter uitwerking sal dit op ons grondwater hê?

    Die Elandsfontein-fosfaatdeposito lê onder die watertafel en binne die Elandsfontein-akwifeer. Ten einde die fosfaatneerslag te ontgin, sal die mynbougebied tydelik ontwater word.

    Om die mynput te ontwater, sal Elandsfontein ’n stel boorgatpompe installeer om die water rondom die mynbougebied te herlei deur middel van ’n geslote pypleidingsnetwerk wat by die akwifeer afstroom van die mynbougebied heringevoer sal word.

    Geoss Ground Water Consultants en SRK Consulting het uitgebreide grondwaterstudies uitgevoer. Geoss het ‘n streekgrondwatermodel ontwikkel deur al die ondergrondse water van die Bergrivier tot by die Langebaan-strandmeer in oënskou te neem. As deel van ‘n grondwaterimpakassessering het hulle bevestig dat die mynbou-aktiwiteite ‘n geringe potensiële uitwerking op die strandmeer sal hê. SRK het ‘n grondwatermodel ontwikkel met fokus op die mynbougebied en strandmeer om voorsiening te maak vir die akkurate ontwerp van die boorgat-ontwateringspompe en die akwifeerhervullingstelsel. Hulle bevindinge het bevestig dat die uitwerking van die myn ‘n geringe invloed op die strandmeer mag hê.

    Die waterstudies is deur verskeie spesialiste ontleed en alle betrokkenes was in ooreenstemming met Geoss en SRK se insette en gevolglike bevindinge.
    Elandsfontein het ook raad ingewin van die Departement van Water en Sanitasie om die aard van die akwifere te verstaan sowel as om enige potensiële uitwerking te bepaal wat die werksaamhede daarvan op die grondwater in die gebied kan hê.

    Vorige navorsing waar die suksesvolle afvoering en stroomafhervulling van akwifere toegepas is vir die ontwatering van mynboubedryf sluit in:
    • die Finsch Diamond-myn, Suid-Afrika;
    • die Kolwezi- en Kamoto-kopermyn, Demokratiese Republiek van die Kongo;
    • die Robinson Copper, Molybdenum, Gold Mine, VSA; en
    • die Premier Coal Mine, Australië.

    Die waterspesialiste van Blue Science het met ’n oppervlakwaterstudie aangetoon dat daar geen oppervlakwater in die mynbougebied of op die Elandsfontein-eiendom is nie. In die oppervlakwaterstudie is die uitwerking op die Groen- en Soutrivier, sowel as die Langebaan-strandmeer in ag geneem. Die gevolgtrekking is dat daar ‘n weglaatbare uitwerking sal wees op enige oppervlakwater as gevolg van die myn, veral indien die afstand tussen die myn en enige oppervlakwater in ag geneem word.

  • Sal enige wild op die plaas nadelig beïnvloed word?

    Die mynbougebied sal nagenoeg 500 hektaar van die volle grootte van die eiendom van ongeveer 5,000 hektaar beslaan en sal in die geheel afgekamp word.
    Die groot soogdiere sal uit die mynbougebied verwyder word voordat enige werksaamhede ’n aanvang neem. ‘n Soek-en-redding sal onderneem word vir die verwydering van kleiner soogdiere en reptiele.

    Die wild sal dan vryelik op die oorblywende 4,500 hektaar kan wei.

    Sal die projek enige plantelewe beskadig of ‘n negatiewe uitwerking daarop hê?

    Daar sal wel sommige plantlewe binne die mynvoetspoor tydelik verlore gaan. Die grootste gedeelte van die mynbougebied val in ‘n gebied van gemiddelde botaniese sensitiwiteit. Volgens die botanis Nick Helm, die konsultant vir die werk op Elandsfontein, is geen een van die plantspesies geklassifiseer as kritiek bedreig nie. Gedurende die voorbereiding van die mynvoetspoor sal ‘n soek- en reddingsproses vir Spesies van Bewaringskommer (SBK) gedoen word en die betrokke spesies sal verplant word na ‘n toegewese kwekery vir herbeplanting tydens die rehabiliteringsproses.

    Sal die ontginning enige skadelike afval tot gevolg hê?

    Ontginning van die Elandsfontein-fosfaatdeposito sal geen skadelike afval tot gevolg hê nie. Die Elandsfontein-neerslag bevat uiters lae vlakke van enige skadelike elemente wat verbind word met sedimentêre fosfate, soos uranium, kadmium, arseen en kwik. Dit bevat geen swael wat die element is wat geassosieer word met suur mynwaterdreinering.

    Die ontginning van die myn sal nie enige radioaktiewe afvalstowwe tot gevolg hê nie.

    Die proses by Elandsfontein is ’n fisiese skeiding van fosfate uit die silika. Dit beteken dat die uiteindelike mynvermorsing uit Elandsfontein skoon silikasand sal wees.

    Die potensiële langtermyndegradering van afvalstowwe is voldoende getoets by laboratoriums van wêreldgehalte.

    Sal die projek enige stof tot gevolg hê wat ‘n negatiewe uitwerking het op openbare paaie, gebiede en woongebiede?

    As gevolg van die stroopmynboumetode word slegs ‘n klein gebied van die mynvoetspoor te enige tyd blootgelê. Dié prosedure verminder die potensiële stofuitwerking in die gebied. Die DDA-lugehalte spesialiste is van mening dat die grootste bron van stof moontlik die voertuie op die gruispaaie in the mynbougebied kan wees. Om stof te beperk, het Elandsfontein die hooftoegangspad tussen die myn en die R45 geteer.

    Stofonderdrukking in die vorm van waterbesprinkeling sal op al die gruispaaie en op alle verskuiwingspunte in die aanleg gebruik word om stof tot die minimum te beperk.

    Hoe maak julle seker dat fosfaatstof nie rondwaai nie?

    Die konsentraat word in ‘n geslote pakhuis gestoor; in bedekte vragmotors vervoer na ‘n tussentydse bergingsplek; weer in ‘n verseëlde pakhuis gestoor, en ten laaste in die hawe in ‘n bedekte verskepingshouer op die skip gelaai. Die fosfaatkonsentraat sal bedek wees en sal gevolglik nie ‘n stofbedreiging inhou nie.

  • Wat is Elandsfontein se bemagtigingstatus?

    Kropz se Suid-Afrikaanse filiaal (wat die 100% eienaar van die Elandsfontein-projek is) is ’n maatskappy met 30% swarteienaarskap.

    Ubuntu-Botho (UB), deur middel van sy volfiliaal, African Rainbow Capital,  is Elandsfontein se breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtigingsvennoot.
    Die aandeelhouding van UB bestaan uit Sizanani-Thusanang Helpmekaar (beheer deur die Motsepe-familiestrusts), die Sanlam Ubuntu-Botho Gemeenskapsontwikkelingstrust (gemeenskapsontwikkelingsfonds) en ‘n groter groep aandeelhouers wat onder andere kerkgroeperings, vakunies en vrouegroepe insluit. Dit verteenwoordig meer as 500,000 voorheen agtergeblewe mense en maak dit een van Suid-Afrika se mees breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtigings groepe.

    Tot op hede het meer as 400,000 voorheen agtergeblewe mense regstreeks baat gevind by die jaarlikse uitbetaling van gelde deur die gemeenskapsontwikkelingsfonds.
    Dr. Rejoice Simelane en Prof. Thandabantu Nhlapo verteenwoordig Ubuntu-Botho op die Kropz-raad.

    Hoe sal die projek ‘n invloed hê op die plaaslike ekonomie?

    Die regstreekse werkverskaffing by die myn van sowat 300 mense vorm slegs ‘n klein gedeelte van die algehele resultaat. Volgens ‘n sosio-ekonomiese impakassessering gedoen deur Theta Research and Strategy Consultants, sal 300 bykomende broodwinners bykans 1,500 individue ondersteun. Die belangrikste ekonomiese voordeel van die myn is die verskaffing en ondersteuning van sekondêre dienste aan die myn, soos vervoer, werktuigkundige instandhouding, kantoor- en spysenieringsverskaffing, verskaffing van algemene gebruiksvoorraad, en so meer.

    Sal die projek ‘n negatiewe impak hê op die beskikbaarheid van enige openbare dienste soos elektrisiteit en water aan inwoners van die gebied?

    Nee. Elandsfontein het vir die eerste drie jaar van die bedryf water verseker van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM). Die myn het by die SBM aansoek gedoen vir 2,4 ML per dag, maar daar word verwag dat minder gebruik sal word.
    Die SBM het al die behandelde rioolwater van die Vredenburg-afvalwater- behandelingsaanleg aan Elandsfontein toegeken. Gedurende die driejaartydperk sal reëlings getref word om hierdie water steeds vir industriële gebruik in Saldanha te behandel om te kompenseer vir die water wat in die bedryf van die myn gebruik is.
    Eskom het verseker dat daar beskikbare elektrisiteit op die kragnetwerk is en die myn het daarin belê om sy eie elektrisiteitsubstasie op die ontginningsaanleg te bou. Die elektrisiteitsaanvraag vir die projek is sowat 8 MVA. Gedurende beurtkrag word die elektrisiteitstoevoer na die aanleg verminder, soos vir die meeste ander klein industrieë. Elandsfontein het voorsiening gemaak vir noodbystand-elektisiteitsvoorsiening in die geval van beurtkrag.

    Sal die myn sigbaar wees van enige pad of woongebied?

    Geen gedeelte van die myn sal sigbaar wees van enige woongebied af nie. Slegs die kruin van die voorraadstapel is gedurende die ontginningsproses van die R27 en die R45 af sigbaar. Die naaste gemeenskappe (Langebaan en Hopefield) is soos die kraai vlieg ongeveer 15 kilometer verder. Hopefield is per pad 23 kilometer van die mynkantoor af.

    Watter uitwerking sal verkeer op die gebied hê?

    Die R45 is ‘n vragvervoerroete wat die N7 met die hawe van Saldanha verbind. Die hooftoegangspad tot die myn word van die R45 af beplan. Dit sal geen uitwerking hê op die R27 wat die vernaamste toerismeroete is nie. Gegrond op huidige berekeninge, behoort vragmotors ‘n maksimum van 96 heen-en-terug-ritte per dag te maak om konsentraat na Saldanha-hawe te vervoer. Die veronderstelling is dat die Elandsfontein-werksaamhede vir die lewensduur van die myn die verkeer op die R45 tot 23% sal verhoog.

    Volgens Royal Haskoning DHV wat die verkeersimpakassessering uitgevoer en in April 2015 voltooi het, word die uitwerking van die verkeer op die omgewing as gemiddeld geklassifiseer. In samewerking met die plaaslike vervoerkontrakteur beplan Elandsfontein om groter voertuie te gebruik om die aantal konsentraat-vragmotors op die pad met sowat 30% te verminder.

    Sal die projek enige geraas veroorsaak wat van die openbare paaie of woongebied hoorbaar sal wees?

    Deur middel van ‘n spesialisstudie het navorsers tot die gevolgtrekking gekom dat die geraas nie vir 1,7 kilometer van die mynbedrywighede hoorbaar is nie. Die naaste gemeenskap aan die myn is sowat 15 kilometer verder weg.

    Hou die fosfaat enige gevaar vir mense in?

    Die fosfaatkonsentraat wat geproduseer word, is ‘n stabiele, reuklose korrel. Herhaaldelike gelokaliseerde en direkte inaseming van oormatige stof kan irritasie in die asemhalingstelsel veroorsaak, maar streng gesondheids- en veiligheidspraktyke vir alle mynwerkers sal die gevaar hiervan verminder.

  • Hoe lank sal die ontginning duur?

    Tans word in die vooruitsig gestel dat die mynbedrywighede 15 jaar in werking sal bly. Rehabilitering sal vir die volle bedryfslewe van die myn in stand gehou word, en daarna vir nog drie jaar nadat die ontginning van die myn tot ‘n einde gekom het.

    Wat gaan met die res van die plaas gebeur?

    Elandsfontein het as deel van sy kompenseringsverbintenis hom verbind tot die daarstelling van ‘n groot beskermde gebied wat bekend sal staan as die Elandsfontein Natuurreservaat. Die reservaat word ontwikkel uit die oorblywende omvang van die grond en sekere naburige eiendomme om by te dra tot die onderhoubaarheid en bewaring van die Weskus-gebied.

    Hoe sal die mynbougebied daar uitsien nadat dit toegemaak is?

    Volgens die rehabilitasiespesialis, Deon van Eeden van Vula-omgewingsdienste, sal die gebied twee winterseisoene na die uiteindelik rehabilitasie selfonderhoudend wees. Dit is Elandsfontein se bedoeling om ‘n volkome funksionele ekostelsel in plek te laat wat by die Elandsfontein Natuurreservaat of potensieel by die Weskus Nasionale Park ingelyf kan word.

    Deon was betrokke by die rehabilitasie van die Chemphos-myn, ‘n proses wat eers lank nadat dié myn gesluit is, ‘n aanvang geneem het. Die insigte uit hierdie projek het tot gevolg dat Elandsfontein tans reeds ‘n aanvang geneem met die rehabilitasieprosesse en rehabilitasiebeplanning om te verseker dat die grond wat vir ontginning gebruik gaan word in die groter bewaringsgebied geïntegreer kan word.

    Hoe sal rehabilitasie befonds word?

    Daar is twee dele van die rehabilitasieproses wat in ag geneem moet word. Wanneer bestendige ontginning teweeggebring is, sal volhoudende rehabilitasie gedek word deur middel van die daaglikse bedryfskoste van die myn. Die sluitings-rehabilitasiekoste word gedek deur middel van ‘n bankwaarborg wat ingedien is by die Departement van Minerale Hulpbronne. Hierdie kwantum van die rehabilitasiebefondsing word elke jaar herbereken, gegrond op die gedetailleerde ontginningsplan vir die daaropvolgende 12 maande sowel as die koste van die verwydering van die permanente infrastruktuur wanneer die myn gesluit word. Sodoende word voorsiening gemaak vir die verspreiding van die rehabilitasiekoste oor die leeftyd van die myn.

    Sekere elemente van die infrastruktuur, soos die toegangspad na die myn, die oorhoofse kragdrade, die waterpyplyne en die mynkantore sal behou word nadat die myn gesluit is. Hierdie strukture sal bevorderlik wees vir toeristeontwikkeling in die gebied.